welkom • sawubona • welcome
Book your experience | Events | Trips | Training
hambanani logo
info@bikebookings.co.za • +27 (0) 82 895 5009
facebook
bikebookings logo
home Events Accommodation Bike Rentals Latest News Photo Gallery FAQ About Us Guest Book  
banner 01
banner 02
OPERATOR QUICKLINKS
MOTORCYCLING
FACEBOOK
LATEST NEWS
Beste Jan - a letter to Country Trax
article

Beste Jan...
Na my bike-trip Baviaanskloof toe voel ek my so na aan jou dat ek amper met “Liewe Jan” wou begin. Maar ek het jou nie as die “Liewe Jan / Liewe Albé” soort opgesom nie.

"Mnr. Jan “Staal” du Toit, Hoofinstrukteur: Country Trax motorfietsakademie, Country Trax, Amersfoort

Ek weet nie eens of jy my nog onthou nie? Dit was ek wat laas November daar by jou op die plaas met my ou 1150 GS (daardie grys een met die ekstra groot tenk) soveel grond en gras geëet het.

Jy was nie baie beïndruk toe ek onbepland ge-Evel Knievel het oor daai groot wal en onder in die bloekombos neergeslaan het nie!

Maar kom ons vergeet die pyn en lyding, die belangrikste is dat ek geleer het. Dis oor ons Baviaanskloof-besoekie wat ek eintlik wil vertel. En ek wil vir jou dankie sê vir alles wat jy tydens Kamp Staaldraad daar by Country Trax so in ons ingedril het.

Ons is drie pêlle saam hier af Oos-Kaap toe. Sommer so op kort kennisgewing, letterlik binne ‘n week alles gereël. Ek, Swaer Theo (die ingenieur van Johannesburg, jy sal hom onthou, hy’t mos twee keer die offroad-kursus by jou gedoen), en dan ‘n ander maat, Gerhardt, wat pas ‘n 1200 Adventure aangeskaf het. Jy weet ons is nie die wêreld se mees ervare grondpad-ghoeroes nie.

Ek en Theo het omtrent nog net daar by jou op die plaas grond gesien. Gerhardt is ‘n ou biker, maar hy was nog altyd ‘n teerpadman. Maar almal sê Baviaans is díe plek waar bikers die grondpad-grense toets, en sonder enige navorsing word dit toe ons eenparige bestemming.

Dalk net iets oor Gerhardt. Hy mag dalk jare lank op ‘n blink Harley ge-profile het, maar hy’t die hart van ‘n leeu. Hy’s ‘n kanniedood. Nie ‘n man van baie woorde nie, maar so lojaal soos jy kan kry. Hy vat niks nonsens van niemand nie. En hy’s groot, Os du Randt-groot. As Gerhardt op sy nuwe Adventure sit, het hy aansienlik meer traksie as ek op die 1150. En dit het niks met die nuwe tegnologie te doen nie. Ons spring toe die Vrydagoggend douvoordag in Bloemies weg.

Splinternuwe grondpadbande op, knobbies, soos jy ons geleer het. (Het jy ‘n idee wat daai taaiers kos, Jan? Ek dink nie jy weet nie, BMW gee seker die goed verniet vir jou. Net die agterwiel was duurder as al vier my plaasbakkie se bande saam!) Theo soek net grondpad.

Sy hele wese verander mos as hy sy regterbeen oor die saal gooi. Hy’s die enigste een met ‘n GPS, en dit voel asof hy elke grondpad suid van Bloemfontein ingepons het. Ek en Gerhardt ry maar gedweë agter hom aan. By Cradock klim ons finaal van die teer af, daar waar die stofpad Pearston toe oor Swaershoekpas wegdraai. Ons blaas bande af en stel die suspensie stywer, net soos jy ons gewys het.

Gerhardt kry ‘n kits-kursus toe Theo al jou opleiding opsom met Country Trax se befaamde leuse: Stand up, look up & open up. En toe maak ons so. Vir die volgende twee dae is jou slagspreuk ons strydkreet. Theo ry voor, penorent soos ‘n graatjiemeerkat. Gerhardt hou in die middel, waar hy elke beweging van Theo kan dophou, en ek dek die agterhoede, waar niemand kan sien as ek gaan sit as my voete moeg raak nie.

Ons slaap die eerste aand in ‘n reusagtige, effens spokerige, dolleë hotel buite Steytlerville, die Karroo Theatrical Hotel (ja, twee r’e). Ek dink nie dis heeltemal jou soort plek nie. Alles is pienk geverf. Daar’s ‘n verhoog in die eetsaal waar daar blykbaar Saterdae ‘n cross-dressing kabaret aangebied word deur die twee baie vriendelike manne wat die plek besit.

‘n Geraamde koerantstorie oor hulle Show teen die muur in die foyer het die opskrif: Where Queens Get Together in the Karoo. Maar ons word soos konings behandel en die kos lyk soos ‘n prentjie in ‘n Franse resepteboek. Onverbeterlik! Die plan is om die volgende oggend gou die negentig kilometer Patensie toe kaf te draf en dan die Kloof te pak.

Half sewe trek ons by die hotel weg, goed uitgerus en met die allermooiste kospakkies wat ons herbergiers vir die lang dag voorberei het. En met twee halfliter-bottels water tussen die drie van ons. Jan, as iemand jou ooit raad vra oor roetes Baviaans toe, sê tog vir hulle om nóóit te probeer om op een dag van Steytlerville af Baviaanskloof toe te ry én dan nog die Kloof te probeer inpas nie.

Daardie “verbinding” tussen die Pink Palace en Patensie – ‘n mens kan dit nie ‘n pad noem nie – is ‘n nagmerrie. Dis ‘n vreesaanjaende dag-trip op sy eie, maar óns gebruik dit as ‘n opwarminkie! Teen agt uur tap die sweet ons af. Negeuur wil ons doodgaan. Teen tienuur is ons skaars by die halfpadmerk en is al die drinkwater op. Ons stop in ‘n klofie. Gerhardt steier met glasige oë rond, uit op sy voete.

Ek soek ‘n koelteboom waar ek kan gaan lê en wag op die einde. Theo, fikse jong bliksem, trippel rond en probeer moed in praat. Ons rus bietjie en stoot toe maar weer aan. My keel is kurkdroog en ek sukkel om daai Chris Rea-liedjie The Road to Hell uit my kop kry. Ken jy dit? On your journey 'cross the wilderness / From the desert to the well / You have strayed upon the motorway to Hell.

Jy lag dalk nou vir ons, maar dit was wraggies nie snaaks nie. Later begin ek glo ek het sonsteek. Of dalk dehidrasie? Wat is die simptome? Miskien het ek altwee. Ek wil my geliefde Shortie Paai by die huis bel, sy’s ‘n dokter, maar sy was so moerig omdat ek weer op ‘n bike-trip is, sy sal sweerlik die foon in my oor neergooi.

En daar’s boonop geen selfoon-sein tussen die berge nie. Dit voel of ek yl. Toe probeer ek my ses maal tafels opsê om my brein te toets – ek het gereeld volpunte hiervoor gehad in standerd twee. 1 X 6 = 6; 2 X 6 = 12... Ek haak vas by 8 X 6 = 49. Maar ons kom daar deur. Patensie is die hemel.

Na ‘n liter Coke, twee liter water en drie piesangs elk, en nadat ons ‘n halfuur lank sterwend op die koel sementblad by die petrolpomp gelê en hyg het, kry ons ‘n tweede asem en begin ons die koppe regkry vir die eintlike uitdaging, die aanslag op die Baviaanskloof.

error counter technique error counter technique
error counter technique error counter technique

Dit was nie speletjies nie, Jan. Tot die GPS het swaargekry. Theo vertel dat daardie vrouestemmetjie op een plek in die Kloof, waar die pad op sy smalste is met ‘n gapende, diep afgrond aan ons linkerkant, oor sy oorfone vir hom fluister: “Turn left! Turn left!”

Bo-op die hoogste piek van die Combrinckspas, tweeuur in die middag, wolkloos en windloos, wys Gerhardt se termometer dis 43 grade. Ek sweet onophoudelik in my goedkoop, swart bikebaadjie. Chris Rea bekruip my weer. This ain’t no upwardly mobile freeway...This is the road to hell.

Grasnek en Nuwekloof lê nog voor. Woorde kan nie reg laat geskied aan oubaas Thomas Bain se bangmaak bergpasse wat hy al voor die Boereoorlog in die Kloof gebou het nie. Kranse. Dongas. Klippe. Gate.

En jy kan nie óm hulle kom nie, jy moet maar net eenvoudig opkyk, oopmaak en bo-oor ry. Linkervinger op die koppelaar, regtervinger op die voorbriek, die ABS-remme áfgeskakel sodat die agterwiel kan sleep, nes jy ons geleer het. Theo moet op 'n slag in ‘n breukdeel van ‘n sekonde alles wat hy van jou noodstop onthou, toepas toe 'n groot koedoebul hom amper van die fiets af spring.

Ek het nie gedink ‘n mens kan op een dag deur soveel riviere ry nie. By die veertigste stroom het ek ophou tel. Seepgladde laagwaterbruggies met weggesteekte gate onder die modderwater. En party is diep. Ek lieg nie vir jou nie, ons Beierse bokser-enjins was op meer as een plek totaal onder die water.

Alle eer aan die oud-Harley-man wat met net my en Theo se tweedehandse teorieë as riglyn, soos ‘n meester gery het. Gerhardt het die Stand up, look up baie ernstig opgeneem. Daar’s een kloof waar ons deur ‘n breë stroom vol gladde klippe moet kom. Theo voor, Gerhardt tweede, ek agter.

Toe ons aankom en Theo se voorwiel ingaan in die water, toe sien ek aan die oorkant ‘n reuse bergskilpad wat op die regterkantste spoor, daar waar die pad en die stroom bymekaar kom, staan en water drink. Theo gaan deur, netjies links verby Skillie, en Gerhardt begin volg.

Hoe dieper hy in die stroom inry, die ene konsentrasie en met daai groot lyf regop en soos ‘n snaar gespan, hoe meer sien ek hoe hy begin drift na die regterkant toe. Ek síén hoe daai skilpad se oë soos pierings rek, ek jok nie vir jou nie! Jan, hy mis daai skurwe dop met sekerlik minder as ‘n haarbreedte!

Ek sweer die wiel het die skilpad se agterpoot geraak. Toe ek hom versigtig vra oor die close call, is Gerhardt se grommende reaksie: “Watter f****n skilpad?”

Die adrenalien pomp. “Julle’t dan gesê ek moet ópkyk!” Maar ons is ongeskonde anderkant uit. En dit sonder ‘n enkele val! Ek dink nie daar’s ‘n teorie of tegniek of truuk wat jy ons geleer het, wat ons nie daardie middag in die Kloof gebruik het nie.

Jy kan jou die windgat bravade indink toe ons daardie aand om ‘n bottel rooiwyn sit en elke stukkie van die roete herleef. En ons het ‘n heildronk op jou gedrink, Jan.

Want sonder jou het ons dit so waar as wragtig nie gemaak nie!

Dankie weer eens. Jy het ‘n nuwe wêreld vir ons oopgemaak.

Groete vir Elsie.
(Sal ons ooit jou vrou se feesdisse daar by Country Trax vergeet...)

Albé Grobbelaar
BLOEMFONTEIN

Read more news >>>
WANNA KEEP IN TOUCH
  
LATEST NEWS
wild at heart
gear up
rumbux
© Copyright 2011 • Terms & Conditions